Grumpy old men

Die nuwe jaar is al mooi aan die gang. As gesin is ons opgewond om 2018 aan te pak met ʼn gesonde lyf en ʼn positiewe uitkyk op die lewe. Ons almal het mos hierdie Nuwejaar voornemens totdat jy ʼn oggend beleef soos vanoggend.

Die wekker gaan af, ek druk die “snooze” knoppie. Ek kan nie glo dit is tyd om op te staan nie. Ons het groot planne gemaak om te hardloop vanoggend. Vroulief vra so mooi: “Liefie gaan ons opstaan?” Ek mompel: “Nog so 5min.” ʼn Rukkie later hoor ek haar weer: “Liefie gaan ons nou opstaan?” Ek is eenvoudig net nie lus nie en grom, grom pluk ek die kombers af en staan op. Sy is verbaas en kan nie glo dat haar man soos ʼn “grumpy old man” uit die bed uit opstaan nie. Ek probeer dit wegsteek met ʼn “daar is niks fout nie” maar sy sien regdeur my en onmiddelik besef ek, ek het ʼn pragtige oggend vir ons altwee bederf en grom, grom gaan ons draf.

Dit laat my dink aan Simson en Delila se storie in Rigters 16: 16: So het sy dae lank by hom bly neul en hom lastig geval. Hy het so ongeduldig geraak dat hy kon sterf.” Delila het begin om ʼn omgewing te skep waarin Simson nie wou wees nie. Ons dink baiekeer dit is net ons vrou wat hierdie omgewing skep, maar ons as mans maak onsself dikwels daaraan skuldig. Ons val so maklik vas in ʼn omgewing van moedeloosheid, of ek is nie lus nie, of ongeduld. Ons trek die hele wêreld in om by ons te pas of ons sluit onsself toe in die grot en niemand moet naby ons kom nie want ons is “grumpy old men”.

Ek wil jou uitdaag om ʼn fees te wees vir jou lewensmaat, wees die een wat eerste moreoggend opstaan en bring sommer vir haar ʼn koppie koffie in die bed. Jaag 2018 in met ʼn gejuig! Wees ʼn man wat ʼn positiewe omgewing skep vir jou gesin.

Share This Post!

Recent Posts

Recent Comments