Date Night

Soos wat die jaar momentum kry raak ons besig. Dit is afsprake, skool, rekeninge inkopies en nog vele meer. Dit is asof ons deel mee gesleur word in die “rat race”. Ongelukkig is dit net die rotte wat wen. Vir daardie rede het ons besef dat as ons nie tyd uitkoop vir mekaar nie sal iemand anders eenvoudig daardie tyd gebruik. Dit is asof die jaar ons oorval het en ons sukkel om op te kom vir asem. Goed gebeur net en hierdie week was geen uitsondering op die reël. Voordat ons, ons oë kon uitvee is ons dagboeke vol.

Dit is asof krisisse altyd voorkeur kry bo kwaliteit tyd. Dit het gekos dat ek moes besluit wat is prioriteit werk of tyd met my vrou. So besluit ons op ʼn “date night”. Vroulief se oë helder sommer op en dit is asof jy die opwinding in die atmosfeer kan beleef. Sy wou nog altyd ons na hierdie klein Italiaanse plekkie gevat het om te kuier. ʼn Kaasbordjie met verskillende brode is een van die bestanddele vir ʼn lekker kuier. Goeie musiek in die agtergrond en sagte beligting help om diep in mekaar se oë te kyk en hartsake te deel.

Soos die aand ontvou praat ons oor drome vir die toekoms. Hoe dieper ek in haar oë kyk hoe meer verlief raak ek. Na 15 jaar se getroude lewe besef ek opnuut dat oomblikke soos die gee lewe aan jou huwelik. Ek word so herinner aan Paulus se woorde in Efesiërs 5: “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd.” Hierdie is nie net van toepassing op ons verhouding met God nie maar elke ander faset van lewe. Almal wil ʼn stukkie van jou hê. Net jy kan kies waar jy jou tyd gaan spandeer. Ek daag jou uit wees ʼn man en kies reg.

Share This Post!